Image result for KYKNET

“Belinda, daar is ‘n hond by julle wat ek net nie uit my kop kan kry nie…”

In die vroeë oggendure van 22 Julie het ek vir Belinda Abraham van die Dierebeskermingsvereniging (DBV) in Grassy Park ’n lang e-pos gestuur met dié woorde.

Vier dae vantevore terwyl die Hond se Gedagtes-span daar geskiet het, het ek ’n Duitse herdershond in die hospitaalhokke opgemerk – ’n hond met ’n afgetakelde lyfie en die hartseerste oë wat ek nog gesien het. Sy was net ’n sakkie bene, het stokoud gelyk en weinig hare op haar lyfie gehad. Sy het tjoepstil tussen die skuim op die koue sementvloer gesit terwyl personeel haar hok skoongemaak het. Ek het my hand deur die tralies gesteek en haar koppie gestreel, maar sy het nie gereageer nie – net gelate en gedweë daar gesit en my stip in die oë gekyk. So uitgelewer aan wat ook al volgende op haar wag.

Terwyl die trane gestroom het, het ek vir haar gefluister: Ek síén jou..! (Ek het so gehuil dat ek eers badkamer toe moes vlug voordat ek my “televisie take” kon voortsit.)

En dis waar ons “Reisie met Gracey” begin het…

Daardie eerste e-pos, waarin ek vir Belinda gevra het om ons te help om haar te red (ek was bevrees sy was weens haar toestand op die uitsitlys), was die begin van ’n emosioneel-uitmergelende maand, en ’n wedloop waarvan die eindstreep baie onseker was.

Ons weet nie veel van Gracey se verlede nie, maar is besig om die spoor te volg. Wat ons wel weet is dat Tracey, soos sy eers genoem is, op die Kaapse Vlakte in die verkeerde hande beland het, en ’n lewe van verwaarlosing en waarskynlik ook erge mishandeling gelei het.

Sy het uiteindelik by ’n man beland wat haar probeer versorg het, maar nie die geld of kennis gehad het om haar toé reeds brose lyfie en geknakte siel gesond te maak nie. Gracey is toe deur die DBV ingeneem, waar sy my en die res van die Hond se Gedagtes-span se harte gebreek, én gesteel het.

Belinda en haar span het dadelik ingestem om ons te help om Gracey gesond te maak, hoewel ons almal heimlik gewonder het of hierdie herdershondjie met haar sielvolle oë ooit van die trauma en beserings van die verlede sou herstel. Terwyl die veeartse by die DBV begin het om vir Gracey spesiale versorging te gee, het ek begin om vir haar te gaan kuier én ’n vir-altyd-huis te soek… Ons het haar hele reis ook op kamera vasgelê, want ons was vasbeslote om vir Gracey te help en haar roerende storie met die diereliefhebbers wat Hond se Gedagtes kyk, te deel.

 

My eerste poging om vir Gracey ’n mense-ma te kry was nie suksesvol nie, maar het my wel moed gegee dat daar goeie mense is wat wel bereid is om ’n uitdaging soos díe te aanvaar, want Gracey het ’n ernstige velsiekte, heupdisplasie en ’n abnormaliteit op haar rug. My en Belinda se grootste bekommernis was dat ons weens die spesiale versorging wat sy sou benodig, en die kostes wat dit sou meebring, nie vir haar ’n huis sou kry nie.

Belinda se span het intussen Gracey se aangrypende storie met hulle vennote, wat Hills en Kyron Laboratories insluit, gedeel en dié maatskappye was so geraak deur hierdie groot poging om een hond se lewe te red dat hulle dadelik aan boord was met skenkings in die vorm van geborgde spesialiteitskos en velprodukte om Gracey se herstel te bespoedig. Dit het ’n reuse verskil gemaak, want dit het die geldelike las op die DBV verlig en die vereniging se span in staat gestel om vir Gracey net die beste sorg te gee. Wat ’n spanpoging!

 

Prescription Diet

Derm Defense

Key benefits

Na my mislukte poging om Gracey die eerste keer aangeneem te kry, was my moed in my skoene en ek het snags letterlik wakker gelê oor die hondjie wat so eensaam daar in die DBV-hokke lê en so hard baklei om te oorleef. Ek het oral voelers uitgesteek, totdat ’n vriendin voorgestel het dat ek die De Waalpark honde-afrigter, Sandy Colman, vir raad vra.

So gemaak, so gedaan. Ek ken vir Sandy wat al vir 40 jaar honde afrig, en weet sy is ook ’n Duitse herdershond-kenner, en ’n baie geliefde inwoner van Oranjezicht in Kaapstad (sy is die ‘ma’ van die twaalfjarige herdershond, Zhea, haar enigste ‘kind’).

Sandy het dadelik ingestem om vir Gracey te ontmoet en te evalueer sodat ons vir haar die régte huis kon kry. Min het ons geweet die soektog na dáárdie huis sou met dáárdie ontmoeting iets van die verlede wees!

Sandy en Gracey het met die intrapslag ’n band gevorm en ons spannetjie omstanders, kamerman Cobus, Tara – ook van die DBV – en ek het met ongeloof toegekyk hoe Gracey onmiddellik op Sandy se bevele en instruksies reageer. Sandy loer toe boonop in Gracey se ore en sien die tattoeëermerk wat beteken Gracey is ’n opreggeteelde, geregistreerde Duitse herdershond. Wie sou ooit kon raai as jy na dié ou gebreekte lyfie kyk?! Hoe het sy hier beland???

Sandy het daardie oggend besluit sy gaan vir Gracey ’n tweede kans gee en het daar en dan die aannemingsdokument onderteken, máár op voorwaarde dat Gracey en haar hart se punt, die bejaarde Zhea, oor die weg moet kom. Ekstase is die enigste woord om te beskryf hoe ons gevoel het toe Sandy daardie belangrike handtekening maak. Ons kon nooit vir ’n beter ma vir Gracey gevra het nie!

Die aanneming kon egter nie onmiddellik gebeur nie; Gracey was nog nie sterk en gesond genoeg om verskuif te word nie, en die DBV moes ook eers hulle normale aannemingsproses volg, d.w.s. deur onder meer ’n huisbesoek by Sandy te doen. Dit sou ongeveer nog ’n week tot tien dae duur voordat Gracey na haar nuwe huis toe kon gaan. Ek en Sandy het intussen pal gepraat en baie gespekuleer oor Gracey se reaksie teenoor Zhea, wat die clincher sou wees…

’n Week later was dit sulke tyd – om presies te wees, die oggend van 23 Augusts 2017, om 9 uur. Ons senuwees was aan skerwe, want dit was tyd vir daardie bepalende ontmoeting tussen Gracey en Zhea… Sou Gracey agressief optree teenoor Zhea..? Sou Zhea dalk stem dikmaak en die ‘inkommer’ verwerp..?

Die DBV het ’n uitsondering gemaak en ingestem om vir Gracey (onder streng toesig) na Sandy te neem waar die Hond se Gedagtes-kameraspan gereed sou staan. Ek was al vroeg by Sandy, angstig en gespanne dat hierdie lang reis met die dierbare hond vandag weer op ’n mislukking kon afloop, en waarnatoe dan vir Gracey?

Sandy was haar kalm en bedaarde self, en het reeds fyn beplan hoe sy haar hond en die nuweling aan mekaar sou voorstel. Ek moet eerlik wees – daar was twee redes hoekom ek nie haar optimisme gedeel het nie: 1) Ons het by die DBV gesien hoe oor-opgewonde Gracey met ander honde raak – grensend aan histerie, en 2): Alleenkind-Zhea sal heel moontlik nie haar ma se aandag wou deel nie…

Wel, my vrese is binne minute besweer. Met Gracey se aankoms het die rustige Sandy al haar jare se ondervinding ingespan en die twee herders meesterlik hanteer. Gracey en Zhea was binne ’n oogwink gemaklik met mekaar en Zhea het ongestoord toegekyk terwyl Gracey haar nuwe omgewing oortjies-orent verken het.

Wat ’n reuse verligting! Weke se spanning het van my skouers afgerol. Ons het almal geblom van blydskap – die Hond se Gedagtes-kameraspan, Loren Greyling van kykNET wat nie dié spesiale dag wou misloop nie, Belinda en Tara van die DBV, en natuurlik, die engel in die verhaal, Sandy.

Gracey het ’n nuwe huisie!

Sandy het intussen uitgevind dat Gracey erens in die Noorde geteel en waarskynlik vier jaar oud is, maar hoe sy by huise beland het wat haar net mishandel en verwaarloos het, is nog ’n ope vraag. Ons laat die saak egter nie daar nie; agter die kap van dié byl gaan ons nog kom…

Wat wél nou belangrik is, is dat Gracey liggaamlik en geestelik aan die genees is. Haar haartjies het weer begin groei; sy tel gewig op; raak spelerig; sy slaap snags warm (met ’n pantoffel in haar bedjie) en gaan bedags vir heerlike stappies. Gracey, wat vermoedelik nog nie die binnekant van ’n huis gesien het nie, word selfs toegelaat om smiddae in die laatmiddagsonnetjie op die rusbank op te krul. Sy het ook ’n hondevriend in die vorm van die waardige Zhea, wat fyn opgelei is en elke dag vir Gracey ’n bietjie meer van die wonderlike wêreld leer. Maar selfs meer belangrik: Gracey het nou ’n ‘ma’ wat vir haar lief is…

’n Uit-die-hart dankie aan Belinda en haar span, asook die borge wat Gracey se herstel moontlik gemaak het, en dan natuurlik aan Sandy [en Zhea] wat hulle huis met soveel deernis vir Gracey oopgemaak het; Hond se Gedagtes is julle ewig dankbaar!

Dis so waar wat hulle sê: “It takes a village…” en ons het opnuut bewys wat bereik kan word wanneer mense saamstaan en omgee…

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

Donation - credit card

Payfast donations